Ligging
Klipfonteyn is geleë by: Suid 34º 36.7’ en Oos 19º 22’ (Kaart 3419CB Gansbaai – Skaal 1:50 000).
Dit is ‘n driehoekige area van nagenoeg 22.5 ha wat deel vorm van die plaas Klipfonteyn 711. Gansbaai is geleë tussen Franskraal en Kleinbaai - ongeveer 5 km Suid-Suid-oos van Gansbaai. Behalwe vir ‘n smal strook Munisipale grond langs die kus, grens dit vir nagenoeg 900 meter aan die Atlantiese Oseaan in ‘n Suidelike tot Suid-oostelike rigting.
Uitleg
Hierdie gebied is so beplan dat nagenoeg 50% van die area bedek sal wees met die inheemse fynbosplantsoorte. Daar is slegs een toegangspad wat by ‘n sirkelroete aansluit. Vanuit hierdie singel is daar 7 doodloopstrate wat toegang verleen aan die 136 erwe. Die betrokke oppervlaktes is soos volg:
Totale oppervlakte = 22.50 ha
136 persele (elk 20 x 30 m) = 8.16 ha
2.1 km teerpaaie met die oop stroke aan elke kant = 2.29 ha
Gebiede bedek met fynbos = 12.05 ha of meer as 53% van die gebied.
Gemiddelde weer
Fynbos
Die Kaapse Planteryk (“Cape Floral Kingdom”) is ‘n besondere plantgemeenskap wat uit meer as 8 700 soorte (“species”) bestaan. Dit strek van die hoogste berge tot by die sanderige en klipperige gebiede by die see. Nagenoeg 68% van hierdie plantsoorte is endemies aan Suid-Afrika en kom nie in ander wêrelddele voor nie.
Klipfonteyn spog met ‘n groot verskeidenheid plantsoorte in ons kusfynbos - wat deel vorm van die Kaapse Planteryk. Alhoewel hierdie planteryk die kleinste area van die ses planteryke in die wêreld beslaan, bedek dit nie alleen die kleinste oppervlakte (ongeveer 90 000 vk km) van die ander planteryke nie, maar bevat dit ook die grootste aantal plantsoorte. Dit is nie bekend hoeveel plantsoorte op Klipfonteyn voorkom nie.
Ongelukkig is nagenoeg 1 700 van die plantsoorte in hierdie planteryk bedreig en word in die “South African Red Data Book “ as bedreig aangeteken.
Een van die bedreigings vir ons fynbos is indringerplante - sommige waarvan uitheems en ander inheemse pionierplante is. Die uitheemse plante is rooikrans (Acacia cyclops), Port Jackson (Acacia saligna) en manatoka (Myoporum insulare). Die betrokke inheemse soorte is veral die duwweltjie en kinkelbos. Hierdie plantsoorte kom meestal voor in versteurde gebiede.
Brandgevaar
Daar word saam met die Munisipaliteit gewerk om die brandgevaar te beperk. Behalwe vir die Munisipale voorskrifte aan die eienaars van erwe, is die betrokke Trustees gemoeid om indringerplante en droë plantmateriaal van die openbare oop ruimtes, waarvoor die Huiseienaarsvereniging verantwoordelik is, te laat verwyder
Dierelewe
Die plaaslike dierelewe bestaan hoofsaaaklik uit Amfibieë (bv. die brulpadda), Soogdiere (bv. die grysbokkie, muishond, kruipmol), Reptiele (bv. Skilpaaie; die onskuldige molslang, tabakrolletjie wat slakke vreet en pofadders asook 46 voëlsoorte wat reeds aangeteken is. Hierdie soorte varieer van die kleinste suikerbekkies, rooisysies, karoo langstertjies, swaweltjies gedurende die somermaande, mossies, vinke, duiwe, muisvoëls, Kaapse fisant, bruinvalkie, die swartrugmeeu wat langs die kus vir aas patrolleer, die swarttobie, kiewiete en die Kaapse ooruil gedurende die nag).