In die negentigs was die huidige Kleinbaai en Klipfonteyn eintlik Van Dyksbaai. Die eienaar was die Van Dyk familie.
Klipfonteyn was oorspronklik ge-oormerk om as ‘n perdeplaas ontwikkel te word. Die eienaar was ene mnr Eddie Albertyn. Die oorspronklike eienaar kon nie die plaas ontwikkel nie omdat die beskikbaarheid van water ‘n probleem was.
Die Rupert familie (nie ‘Johan’ nie) het ook belanggestel om Klipfonteyn te koop vir ontwikkeling, maar die plaas is aan mnr Piet Bester verkoop.
Mnr Albert de Witt, wat grootgeword het in Gansbaai, was bewus van ‘n toegeruste boorgat op Klipfontein 2. Hierdie boorgat het destyds water verskaf aan Franskraal en Uilenkraalsmond.
Die beskikbaarheid van water was ‘n voorvereiste vir die ontwikkeling van Klipfonteyn en Albert de Witt het saam met ‘n vriend die boorgat gaan soek op Klipfonteyn 2. Die boorgat is uiteindelik opgespoor in ‘n digte woud van rooikransbosse. Die boorgat is steeds in gebruik.
Gedurende 1993 het mnr Albert De Witt saam met sy vennoot Arrie Slabber, wat in die skoenbedryf was, die ontwikkeling van Klipfonteyn begin. Die twee het Klipfonteyn, asook Klipfonteyn 2, ontwikkel. Die plaas is destyds vir R3.5 miljoen gekoop van mnr Piet Bester.
Om te verseker dat die grond ontwikkel kon word, het Albert de Witt begin om al die rooikransbosse uit te roei. Die groen stroke is beplan om te verseker dat die ontwikkeling ‘n eko-vriendelike balans handhaaf. Albert de Witt was oortuig dat indien die groen stroke nie beplan en geïmplementeer sou word nie, die Klipfonteyn ontwikkeling nooit sou realiseer nie. Die oorspronklike beplanner van Klipfonteyn was Jan Hanekom, wat vir Paarl Munisipaliteit gewerk het. Namate die rooikrans uitgeroei is, het die natuurlike fynbos weer hervestig.
Die 136 erwe is vir ‘n hele paar jaar bemark. Die bemarkingstrategie was om die WP rugbyspelers wat destyds gedurende die negentigs, vir vyf jaar die Currie Beker gewen het, se name te gebruik.
Strauss-straat is vernoem na Tiaan Strauss. Die WP rugbyspelers wou almal ‘n erf koop, maar teen 50% van die markprys. Dit is nooit aanvaar nie.
Een van die voorwaardes van die destydse koopooreenkoms was dat eienaars kon hout kap vir eie gebruik.
Die strate is vernoem na belangrike rolspelers in die ontwikkeling van die Klipfonteyn woongebied.
Een van die stigtingsvoorwaardes van die Munisipaliteit was dat ‘n Huiseienaarsvereniging (HEV) saamgestel moes word om al die nodige plaaslike aspekte te hanteer. Die Munisipaliteit wou nie betrokke raak met die ontwikkeling nie.
Die oorspronklike pad van Kleinbaai na Franskraal se roete is verander om nie deur die woongebied van Klipfonteyn te gaan nie.
Die samesteller van die eerste HEV reëls was mnr Danie Siebert, ‘n prokureur, wat betrokke was met oordragte en regsaspekte.
Die ontwikkelaar, mnr Albert de Witt, was ‘n lid van die HEV tot 90% van alle erwe verkoop was.
Die totale koste vir die paaie, stormwater, elektrisiteit en water was R2.5 m.
Mnr Albert de Witt het ook die publieke erf langs die see afgesper met groot klippe om te verseker dat vierwiel aangedrewe voertuie nie die fynbosarea langs die see sou beskadig nie.
Die destydse eienaars wou die rustige atmosfeer handhaaf en was daarteen gekant om Klipfonteyn te omhein met ‘n sekuriteitsheining.
Mnr Arrie Slabber het uiteindelik sy vennootskap met mnr Albert de Witt beëindig en is toe uitgekoop deur mnr John Maartens van East Road Works. Die vennootskap se naam het verander na Activest 26.
Die nuwe vennootskap het Klipfontein 2 se ontwikkeling hanteer.